Paragon Cinematic Films
Sight Sound & Magic

DIE PELSLOPER

 

DIE VERHAAL - 'n Kort Sinopsis                   
(Ons wil nie die storie weggee nie!)

Die Pelsloper is 'n romantiese riller met 'n donker, gotiese atmosfeer uit die pen van die ATKV-bekroonde skrywer MARTYN LE ROUX. Dit is gebasseer op een van sy vroeë skryfstukke in Engels wat hy vir die Internet as 'n E-boek bestem het, en in Afrikaans verwerk het.

Die verhaal speel af in die TANKWA KAROO, SUTHERLAND omgewing en die Wes-Kaap.

ʼn Avonturier en paranormale ondersoeker, George Coetzee, kry 'n wenk oor 'n baie seldsame verskynsel in die Tankwa Karoo vanaf 'n ou bankrotboer wat hy eendag in 'n Sutherlandse kroeg raakloop. George sien 'n volgende storie daarin en besluit om ondersoek te gaan instel.
 Hy pak sy motor en durf die uitgestrekte landskap van die Tankwa aan. Op sy eerste dag het hy 'n onverwagte onderonsie met 'n Kaapse geelslang in die veld. Hy val teen 'n skuinste af en sy kop tref 'n klip.
  Hy word wakker in 'n vreemde, armoedige gebou met net een inwoner, 'n beeldskone, misterieuse donkerkop vrou, wat hom meedeel dat sy hom al vir twee dae versorg, nadat sy hom net betyds van 'n gewisse dood gered het.

  George probeer by haar uitvind waar hy presies is, hoe hy daar gekom het, wie sy is, en waarom sy so alleen daar woon, maar sy is ontwykend en dring daarop aan dat hy die volgende dag moet vertrek en nie langer daar kan bly nie.

  Hy is totaal gefassineerd deur die geheimsinnige nimf van die hut en probeer om ʼn foto van haar op sy selfoon of kamera te neem, maar sy deel hom ook mee dat sy baie duur kamera en foon ook in die slag gebly het met sy val. Effektief het George geen manier om 'n foto of bewys van haar of die hut te bekom nie.
   Hy kry dit reg om uit te vind dat sy slegs sestien jaar oud was toe sy en haar pa hulle hier kom vestig het, en dat sy al byna twintig jaar daar woonagtig is, die laaste ses jaar alleen, nadat haar pa dood is.
  Sy deel hom mee dat haar naam Samantha is en haar van, Worthington. George het geen twyfel dat een of albei die name vals is nie. Hy leer ook dat sy 'n bestaan maak uit die verkoop van wildsvelle en pelse, kruieplantjies en kunswerke wat sy self maak. 
  Tydens ʼn verkenningstog buite om die woning wat netjies weggesteek is, bekyk hy die talle pelse wat buite hang van nader, en sien dat hulle almal perfek is. Daar is geen merk of koeëlgat êrens te sien nie. Hy wonder hoe sy dit doen? Hy wonder ook hoe dit moontlik is dat sy hom tot hier kon dra sonder enige hulp? Hy wonder ook wat die doel van die enorme, swaar ysterhok is wat verlate langs die hut staan? En die eensame graf nie ver van die hut nie?

George maak ʼn Pandora se boks oop wat hom op ʼn ongelooflike pad van donker onthullings, liefde en tragedie meesleur en hom uiteindelik voor ʼn baie moeilike keuse te staan bring...